Cosmos of Life's Creation

Nicolaas von Wielligh onthou

Nicolaas von Wielligh
Nicolaas von Wielligh
Nicolaas von Wielligh

Hier volg verhaalings en stories deur my ou neef Nic von Wielligh.

Nicolaas (6) von Wielligh onthou die volgende omtrent Oupa Klasie.

Gebore Oct 1936 nog lewend Vandag 25 Junie 2009

Oupa se tweelingbroer was Christian Lodewicus Wentzel von Wielligh, en hy was bekend as oom Chrisjan. Ek het steeds kontak met 'n kleinseun van hom wat sy naam dra en ek het ook 'n koerantknipsel van sy begrafnis waarin sy name voorkom.  Ek het oom Giep goed geken, hulle het dikwels by ons kom kuier tot my Ma se konsternasie. Hy  het net vyf minute gesit, dan al die prente teen die muur reggedraai en sy vinger oor die kaggel en vensterbanke getrek om te kyk of daar stof op was

Ek het hom natuurlik heelwat minder gesien, net wanneer hy ''op die dorp" kom kuier het. Wat ek van onthou was dat wanneer hy by ons kom kuier het, het hy altyd 'n pak en 'n das aangehad. Hy sou miskien die baadjie uittrek maar die das het hy aangehou. Hy was baie lief vir lees en ek het altyd by al wat 'n biblioteek was, vir hom boeke oor die Boere-oorlog uitgeneem.
 Ja, hy en sy tweelingbroer, oom Chrisjan, was albei bittereinders - hulle was nooit gevang nie. Ek weet nie van een van die familie wat in 'n krygsgevangene- of konsentrasiekamp was nie. Hulle het die oorlog begin in die Boksburg Kommando en het later onder generaal Kemp geveg. Een van my wonderlikste herinneringe is oor 'n vakansie wat oupa Klasie saam met ons see toe was - as ek reg onthou Amanzimtoti. Maar die hele pad wat ons Natal toe gery het, het hy net vertel wat by hierdie dorp of slagveld gebeur het, hy was blykbaar lank in Natal gedurende die oorlog. Hy kon met oorgawe en baie entoesiasties die verhale oordra en ek het letterlik aan sy lippe gehang - wens net ek kon alles onthou!  In daardie dae was Natal nog baie, baie Engels en Oupa was nou nie juis baie lief vir die ou nasie nie. Hy het egter nie veel tydens die vakansie gesê nie maar toe ons terugry Transvaal toe, staan daar so 'n slap, rooigebrande Engelsman langs die pad en duimgooi. Ek het gesien Oupa word rooi van woede, hy draai die ruit toe af en snou die Rooinek toe: Go to your moer! Dit was die enigste keer wat ek hom ooit 'n sterk woord hoor sê het maar dit was die resultaat van twee weke se opgekropte woede oor die Vyand.

Ek kan ook onthou dat Oupa nooit sout geëet het nie, die gevolg van die oorlog toe hulle sonder sout moes klaarkom. Hy was baie lief vir Coca Cola. Die laaste keer wat ek hom gesien het, was in 1958 toe ek as student vir hom gaan kuier het in die Algemene Hospitaal (later HF Verwoerd) waar hy gelê het met maagkanker. Hy is kort na my besoek oorlede. Iets wat ek van hom oorgeêrf het, is dat hy nooit by wou wees as hulle skaap, bees of vark geslag het nie. Hy het altyd sy sambok geneem (teen rinkhalse) en die veld ingevaar op die plaas. Hy was 'n regte outydse "gentleman".

Rufus Baron von Wufus
Rufus

Die Memoirs van ‘n veelgerese,welbelese en veelgeprese WORSHOND.
Deur Rufus Baron von Wufus
Maart 2004 
Voor Die Begin 

            Al ooit gehoor van ‘n hond wat ‘n boek oor sy lewe geskryf het? Nie! Dan is dit hoog tyd – tye het verander. Was ‘n hond nie die eerste ruimtevaarder lank voor mense dit aangedurf het nie? Hier dink ek nou aan kameraad Laika van die Sowjet-Unie wat meer as driehonderd hondejare (dis nou amper vyftig mensjare) gelede in Sputnik 2 die ruimte verken het. Soos my vriendin uit Oostenryk, Hemma von Hundstorf, die anderdag in ‘n e-pos aan my skryf (sy is ‘n bietjie van ‘n aktivis):

Te lank is ons soos honde behandel. Dis tyd dat ons ons regmatige  plek in die Wêreld inneem en nie meer tevrede is met die krummels wat van die tafel af val nie. Wie sorg vir mense se veiligheid, wie vang  die skelms,  wie help blinde en ander gestremde mense, wie vaar die ruimte in, op wie toets hulle medisyne en voer hulle operasies uit voor dit op mense getoets word, ek vra jou wie? Ek hoor daar by julle is ‘n gesegde “so ‘n ondankbare hond!” Verregaande! Ons is dan juis vir alles dankbaar!
 

Hemma by haar rekenaar
Hemma by haar rekenaar
Hemma by haar rekenaar

            Kan ek myself  dus voorstel? Ek is Rufus, ‘n Worshond van adelike afkoms, edele inbors en voortreflike voorkoms. Ek is in die vorige millenium gebore en is nou amper 100 mensjare oud.  Ek bly nog my hele lewe by Nic en Lydia von Wielligh wat ek sommer Oupa en Ouma noem, nes hulle kleinkinders.

 

Ek is nou wel ‘n hond maar ek kan dink en en ek kan droom, ek kyk TV, ek word hartseer, ek kan blydskap ervaar, ek kan kwaad word en stres en boweal kan ek baie liefde gee. As ek nou ‘n mens was, sou hulle gesê het ek het ‘n siel maar omdat ek maar net ‘n  hond is, het ek kwansuis nie so iets nie. Dit pla my nie juis nie want ek weet wat ek weet. Noem dit dan maar ‘n persoonlikheid.

            Maar wat ek tog graag sal wil weet, waar was hierdie siel of persoonlikheid van my voordat ek gebore is? Of was daar nie so ‘n siel nie? Ek dink baie oor sulke goed as die mense dink ek lê en slaap – soos ek sal toegee die meeste ander honde maar net doen, veral my neef Boela - ‘n dubbeldekkerbus vol krassende kraaie sal hom nie wakker maak nie. En wat word van my siel as ek eendag doodgaan? Mense wie se saak met die Here reg is, gaan hemel toe maar wat van ons honde, ons het dan nie “siele” nie?  Maar gee ons nie baie meer liefde en vergewe ons mense wat ons slaan en mishandel nie makliker as wat die meeste mense doen nie? Ek hoor die anderdag van iemand wat sê dat as daar nie honde in die hemel is nie, wil hy na die plek toe gaan waar die honde heen gaan! Terloops, Ouma glo vas dat sy eendag in die Hemel die honde gaan oppas – ek sal baie bly wees!

 

            As ek nou ‘n mens was sou hulle sê ek filosofeer maar in my lang lewe het ek oor baie dinge gedink en ook baie dinge belewe, meer as baie mense, wat nog te sê honde. Miskien sal jy belangstel om ‘n bietjie daarvan te hoor, al is dit nou ‘n hondestorie, so ek begin maar by die begin.

 

Ma Katryn
Kliek vir GROOT Ma Katryn

Aan Die Begin 
My Hondefamilie
Dit het alles begin op ‘n Sondagmiddag in Februarie 1900 bo-op Ouma-hulle se ou yster en koper bed (wat hulle ou Barberton noem)  toe ek en my Boetie Plesier en nog twee ander gebore is. Daar was selfs ‘n mensdokter by om vir Ma Katryn by te staan – dr Kobie – maar dit was nie nodig nie, Ma Katryn het vanself geweet hoe om alles te hanteer. My Pa het ek ongelukkig nooit ontmoet nie maar hy was blykbaar ‘n baie mooi hond. Sy naam was Blondin (en nog iets wat ek nie kan onthou nie) maar die mense het hom sommer Blompot genoem, ook maar goed so want wie wil nou  blondin vir ‘n Pa hê!
Dit is nou ongelukkig so dat ‘n mens maar baie min onthou van die dae toe jy nog baie klein was. Om die waarheid te sê, ek was maar omtrent 200 g toe ek gebore is.  Wat ek  wel onthou toe ek nou ‘n bietjie groter was, is lui-lekker vreedsame, sonskyndae sonder veel opwinding saam met my familie – my Ma Katryn en al my baie Worshond boeties en sussies. Hulle het gekom en gegaan, party het maar kort by ons gebly en dan het mense hulle kom haal. Maar ander soos ou Boetie Plesier en Sussie Griet was te mooi vir Ouma om hulle te verkoop en hulle het – dankie tog – gebly. 

As daar ooit ‘n “Lady “ was dan was dit Ma Katryn – statig, bedaard en vol wysheid. Bewaar jou siel as jy jou te buite gegaan het, sy het die nonsens net daar gestop! Nogtans het sy ‘n liewe en sagte geaardheid gehad en was ‘n Ma duisend!

 Ek kan onthou hoe ek en Plesier, toe ons ons nog baie klein was, deur Ouma in ’n mandjie onder n doek in die hospitaal ingesmokkel is waar Elma was. Dan het sy ons onder die kombers weggesteek sodat die kwaai susters ons nie kon sien nie – verbeel jou vuil“ honde in ’n hospitaal! 
Ander kere het ons buite op die groen grasperk rondgehardloop, al langs die swembad waar ons nie kon kom nie want daar was ’n heining om. Elma het wel partykeer toegelaat dat ons op die opblaasmatras saam met haar in die swembad op die water kon ry. Dit was so lekker.  

Ons KatteBehalwe ons honde was daar altyd ’n klomp katte in die huis. Alhoewel hy voor my tyd was, het ek baie van ou Krismis, Lilla se kat, gehoor. Die seuns het hom glo Jelle genoem en dan het Lilla altyd baie kwaad geword. Op ’n keer het hy onder ’n motor beland en moes vir ’n lang ruk met drade in sy kakebeen en ’n oop wond op sy kop loop wat maar nie gesond wou word nie. Die seuns het altyd gesê sy brein loop daaruit en dan was Lilla baie kwaad. Oupa het ook ’n kat gehad – ’n pragtige blink, grys kat met sulke swart strepe en ’n deftige naam, Bastos Machado. Hy was sommer Bassie genoem. Eendag het hy onder ’n motor beland wat hom doodgery het. Almal was baie hartseer. Na ’n ruk het ons weer ’n kat gekry wat Ouma en Ben by ’n dierebewaarplek gaan uitsoek het. Hulle het in die hok vol katte ingegaan en hy was die enigste een wat na hulle toe gekom het. Hy was toe al ’n jaar daar in ‘n hok saam met die ander en was baie bly om uit te kom om by mense te gaan bly. Sy naam was Sammie en ons was baie lief vir hom. Dit was asof al sy swaarkry hom ’n baie dankbare kat gemaak het. Ongelukkig het hy, soos katte nou maar is, eendag ’n dom ding gedoen en oor die heining gespring in die bure se erf in waar hulle wrede Bullterrier hom doodgebyt het. Daarna het ons nooit weer katte gehad nie.

Die Agterplaashonde 
Behalwe ons klomp Worse in die huis was daar in die agterplaas ook altyd honde, Bullterriers of  Staffies, baie van hulle voor my tyd.  Hulle moes die huis oppas wat hulle goed gedoen het – die werksmense was maar skrikkerig vir hulle. Die een, ou Jorsie so ’n swart Staffie, het glo altyd tussen Ouma en die tuinwerker gaan staan. Die tuinwerker kon nooit sy hand uitsteek om iets by Ouma te vat nie, soos byvoorbeeld sy kos, en dan het Jorsie hom netjies aan sy pols gevat (nie gebyt nie, net vasgehou) en niks geblaf of gegrom nie, net vasgehou. Ouma moes maar altyd die ding wat sy wou gee iewers neersit waar die tuinwerker dit later kon optel. Ons daaglikse Lewe in MurrayfieldDie lewe daar in ons ou groot huis in Murrayfield was lekker maar nie baie opwindend nie – behalwe as Ma Katryn weer ‘n werpsel gekry het of so iets. As Oupa hulle uitgegaan het, het hulle ons maar in die huis opgesluit en dan het ons in die televisiekamer op die bank gelê en gewag vir hulle om terug te kom. Ongelukkig was daar van ons – ek sal maar nie name noem nie want ek klik nie – wat dan uit verveeldheid die banke opgevreet het. As die Oumense terugkom, was die hele plek onder skuimrubber en was hulle baie onsteld. Ouma het toe dik komberse oor die banke gesit en met babadoekspelde vasgesteek sodat ons nie by die skuimrubber kon uitkom nie maar sy het nie gereken met Sus Griet wat doekspelde kon oopmaak nie. Die Oumense moes die meubels twee keer vervang. As ek terugdink is ek skaam daaroor maar aan die anderkant was dit amper so lekker soos ’n kussinggeveg dat die vere so waai.’n Mens is ook maar onverantwoordelik as jy so jonk is! 

Later met al die kinders uit die huis en Oupa wat so dikwels oorsee gereis het en Ouma wat dan alleen moes bly, het hulle besluit om maar die ou groot huis te verkoop. Dit was vir jou ‘n ding om van al die goed ontslae te raak wat te veel was vir die nuwe kleiner plekkie in Faerie Glen. Gelukkig was daar vir al ons honde plek by die nuwe huis, Ma Katryn, ek en Plesier en Grietjie met Erdmann. Alhoewel ons lekker saamgewoon het, het dinge partykeer ook maar warm geword – ek dra nou nog die hap in my oor om te getuig daarvan.

Later het Elma se ou Jakkie ook by ons aangesluit, amper dood en in ‘n verskriklike verflenterde toestand nadat Erich-hulle se Burg hom beetgehad het. Sy gesig was so geswel hy kon nie eet nie en Ouma moes hom op ‘n matjie uitsleep om ‘n draai te gaan loop want hy kon nie loop nie. Hy het darem later so stadigaan reggekom maar het daarna altyd met sy gesondheid gesukkel – veral as hy kompos geëet het (waarvoor hy nogal lief was) het hy met sy maag gesukkel.

My liewe Boetie Plesier

Ou Boetie Plesier was ook nie ‘n baie gesonde hond nie. Hy was dikwels siek. Op ‘n keer was hy so-te-sê dood, net sy stertjie het nog so effens gewaai daar waar hy op die bed gelê het. Maar Oupa en Ouma het vir hom gebid en hy het gesond geword. Oupa sê altyd die Here het honde ook gemaak en daarom kan ‘n mens vir hulle ook bid. ‘n Ander keer het ons gedink hy het nek- of rugprobleme gehad en het hom na Dr van der Zee geneem. Hy het hom weer na ‘n honde-internis in Sandton geneem. Plesier het kort by ‘n operasie omgedraai maar het weer reggekom. Daarna het hy weer baie siek geword. Oupa was oorsee en Ouma het hom na die veearts geneem maar hulle kon niks vir hom doen nie en hy is dood. Ouma het hom toe maar onder die maalklip in die tuin begrawe waar die mooiste blomme vandag groei. Sy dood was vir my hartverskeurend want hy was my liewe Boetie en ook my beste vriend. Ek mis hom tot vandag toe nog, hy was die dierbaarste hond - dis hoekom sy naam Plesier was.

Tyd vir ‘n Verandering 
Een Ieder Woelt Hier om Verandering

            Hierna het ons begin hoor die Oumense praat daarvan om miskien oorsee te gaan vir drie jaar. Vir ‘n Worshond wat in Pretoria gebore is en altyd daar gebly het en skaars ooit uit die erf gegaan het, was dit ‘n vreemde gedagte – ek het maar min geweet van oorsee maar ek het my ore oopgehou en alles gehoor wat hulle gepraat het en al hoe meer begin leer. Naderhand het ek glad opgewonde daaroor begin raak omdat ek van kleinsaf baie nuuskierig was en altyd nuwe dinge wou doen. Ons was baie verlig om te hoor die Oumense het beplan om van ons saam te vat – net Griet en Erdmann sou by Lilla-hulle agterbly.

            Oupa het gesê ons gaan in Weenen in Oostenryk woon en omdat ek baie van mooi musiek hou was ek baie bly want hulle sê Weenen is die stad van musiek. Hier het Haydn, Mozart, Beethoven, Schubert en Strauss en baie ander komponiste gewoon en gewerk. Ek het ook televisieprogramme oor Oostenryk gesien en dit het vir my na ‘n baie mooi groen land met sy hoë berge gelyk. Oupa het gespot en gesê ons Boereworse gaan nou Weenseworse word.

Die Groot Trek

Die trek na Wien (soos die Oostenrykers sê) was vir jou ‘n ding. Dit was ‘n gegroet en gekuier en groot inpak. Meeste van ons meubels en sulke goed het hulle eers kom haal om hier in Suid-Afrika te stoor en die ander goed het hulle in ‘n vraghouer gepak wat per skip na Wien toe moes gaan. Dit was maar ‘n deurmekaar tyd met ‘n inpakker in elke kamer, ‘n mens moes maar net oppas of hulle draai jou ook toe in bubblewrap en pak jou in. Ouma het net betyds gekeer dat hulle ‘n dosyn eiers inpak om na Wien toe te stuur. Met die vraghouer in die son en die lang tyd wat die houer op die skip sou wees, sou die hoenders seker uit die houer gevlieg het as hulle dit in Wien oopgemaak het! Hulle het glad van die Oumense se leë tasse toegedraai en ingepak en toe die Oumense hulle klere wou inpak, was die tasse weg! Die inpakkers moes ‘n hele klomp pakkies oopmaak voor hulle by die leë tasse uitgekom het!

 

Behalwe die nuwe tasse wat die Oumense gekoop het, was daar ook so ‘n ou klein groen hokkie waaroor hulle eers niks gesê het nie maar wat ek naderhand uitgevind het vir my bedoel was om op die vliegtuig saam te ry. Ma Katryn en Jakkie sou agterna kom op hulle eie. Die Oumense kon nie drie honde in die hotel in Wien aanhou nie. Ek het nie nie juis kans gesien vir die benoude hokkie nie – ‘n hond kon homself skaars daarin omdraai en wat gemaak as jy nou ‘n draai wil loop?

 

Hoe nader dit aan die vertrekdag gekom het, hoe meer het ek op my senuwees gekry. Vir ‘n hond wat sy hele lewe lank op ‘n erf agter heinings of mure gebly het en nie veel geweet het van wat daar buite aangaan nie, was die onbekendheid van wat op my gewag het, amper te veel vir my. Jy moet darem weet ek het vantevore min in ‘n motor gery, wat nog van ‘n vliegtuig!  Alles was vir my vreemd en het my benoud gemaak. Hoe sou ek regkom in ‘n ander land met ‘n ander taal en ander gewoontes? Ek moes ook allerlei permitte en gesondheidsertifikate kry asook ekstra  inspuitings by die veearts en jy weet hoe min ek daarvan hou.

 

Volstruisfilet en Kaskenades in die Lug

Eindelik het die dag aangebreek op 30 September 1999. Die tasse was gepak en die mense het kom groet, sommer baie van hulle. Erich en Kobie met Nico en Jani het ons kom oplaai en lughawe toe geneem en Lilla- en Elma-hulle was ook saam. Almal moes help met ons enorme klomp bagasie. Ek het in my lewe nog nie so baie mense gesien nie - dit was ‘n verskriklike gedrang en ek is in my hokkie gesit. Ek was ook maar bly want die honderde mense met al hulle trollies en tasse sou sommer bo-oor my geloop het. Oupa moes my, hok en al, eers na ‘n spesiale toonbank toe neem waar ek geweeg is en Oupa vir my ekstra moes betaal – soos vir ekstra bagasie. Bid jou dit aan – ek Rufus was sommer soos ‘n ekstra tas beskou. Hulle wou ook al my papiere en permitte sien. As ek reg onthou moes Oupa omtrent R500 betaal vir my reis.

 

Die ergste het ek jou natuurlik nie vertel nie. Vir ‘n hele dag voor ons op die vliegtuig geklim het, mag ek niks geëet of gedrink het nie – ek was naderhand so dors en honger  maar hulle het vir my niks gegee nie behalwe so ‘n wit pilletjie wat my baie lomerig laat voel het. Ek het gehoor hulle praat van ‘n kalmeerpil maar wat ek wou hê was kos, lekker kos!

 

Nadat ons vir Erich-hulle gegroet het, Ouma en Oupa natuurlik met baie trane, is ek in my hokkie saam met die Oumense en hulle handbagasie na die groot vertreksaal met baie mense waar ons moes wag voordat ons op die vliegtuig kon klim. Intussen het my maag geskreeu van die honger en my tong het omtrent uitgehang van die dors. Uiteindelik was ons op die vliegtuig van Austrian Airlines. Die lugwaardinne was heeltemal in rooi aangetrek, selfs hulle kouse was rooi – hulle het my ‘n bietjie aan posbusse laat dink! Gelukkig het die Oumense besigheidsklas gevlieg en was daar genoeg plek vir my hokkie by Ouma se voete.

 

Ek het naderhand gevoel die vliegtuig begin beweeg, eers stadig vir ‘n hele ent. Ek was maar baie benoud. Toe het hy vir ‘n rukkie stilgestaan en toe het ek gehoor hoe begin die enjins skielik al hoe harder raas en gevoel die vliegtuig begin al hoe vinniger beweeg - so vinnig dat ek teen die kant van my hokkie vasgedruk is. My hart het in my keel geklop! Naderhand kon ek voel die vliegtuig stamp nie meer so nie – ons was seker in die lug! Ek het gehoor Oupa, wat baie belangstel in dié dinge, sê vir Ouma “Ons het teen omtrent 330 km/h opgestyg”. Ek kon nie glo die groot vliegtuig met die honderde mense en al hulle bagasie kon so vinnig ry op die grond nie en dat ons nou al in die lug was nie!

 

Na ‘n hele ruk – dit moes al taamlik laat in die nag gewees het - het die rooi lugwaardinne vir Ouma-hulle kos bedien. Julle weet natuurlik hoe goed ek kan ruik en dit het vir my na topklas kos geruik. Nou moet julle my situasie verstaan, hier sit ek vas in ‘n donker hokkie by Ouma se voete, doodhonger en met ‘n kop wat skoon dronk is van die pil, met die vreemde geraas van die vliegtuig in my ore en daarby nog doodmoeg en op my senuwees van al die dag se wedervarings. Die passiers, weer, sit in lekker gemaklike stoele en word bedien met die lekkerste kos en hulle kan opstaan en rondloop soos hulle wil. Ouma het darem so ‘n stukkie van haar volstruisfillet vir my deur die hokkie se deurtjie gegee – maar was dit lekker! Naderhand het ek begin spook en spartel in die hokkie totdat Ouma my oopgemaak en so ‘n bietjie uitgehaal het. Ek wou net rondloop om my bene so ‘n bietjie te rek maar Ouma het my weer teruggeprop in die hokkie. Ek het gehoor hoe sê sy vir Oupa “Die pil is seker uitgewerk” en het vir my nog ‘n pil probeer ingee. Ek het gemaak of ek dit insluk maar het dit onder die kombersie in die hok uitgespoeg sonder dat hulle dit sien.

 

Oupa en Ouma was ook maar moeg en nadat hulle geëet het, het hulle aan die slaap geraak. Toe hulle lekker slaap en die ligte afgeskakel is, het ek my kans gebruik. Ouma het nie die hokkie se deurtjie goed toegemaak toe sy my teruggesit het nie en vir ‘n intelligente hond soos ek was dit kinderspeletjies om die deurtjie oop te maak. Dit was natuurlik nie vir my ‘n probleem om die kombuis te kry nie – nie met my goeie neus nie! Ek wou gaan kyk of daar nog van die lekker volstruisfillet oor was waaraan die Oumense so gesmul het. By die kombuis aangekom - as jy dit nou ‘n kombuis kan noem, dit was nie eers so groot soos ons ou klein badkamertjie by die huis nie – was die rooi lugwardinne baie verbaas om my te sien maar te dom om te weet ek soek iets om te eet. Een het dadelik na Oupa toe geloop en hom verontwaardig aan sy skouer geskud tot hy wakker was. Ek het gehoor hoe sê sy vir hom: “Sir, what a surprise, we found your dog in our kitchen!” Ek het maar bedremeld in die gangetjie gestaan en my stert verleë gewaai en gewag om te sien wat gaan gebeur. Plaas dat sy my nou maar net ‘n stukkie kos vir my honger magie gegee het dan sou ek vanself stilletjies teruggegaan het. Oupa was deur die slaap en  het hom morsdood geskrik. Hy het my dadelik teruggestop in die hokkie en seker gemaak dat die deurtjie goed toe is. So het ek die res van die reis, wat omtrent elf uur lank was, maar met my hongerpyne en al in die benoude ou hokkie moes sit en wag op verlossing en wonder wat alles nog op my wag.

 


Lang flug noord

Aankoms in ‘n Vreemde Land 
Ons land in Wien maar Niemand Kom Ons Haal nie

            Die loods van die mooi, nuwe Austrian Airlines Airbus het regtig voet in die hoek gesit. Ek het gedurende die reis gehoor Oupa sê dat ons nou 1000 km/h vlieg aangehelp deur ‘n baie sterk wind van agter. Ek kon my ore nie glo nie, dit het nie so vinnig gevoel nie en ek het gewens ek kon by die venster uitkyk om te sien hoe die wêreld daaronder lyk. Ek sou veral graag die hoë Alpe wou sien waaroor ons gevlieg het, die hoë berge wat soos ‘n rugraat van Oostenryk lyk, gewoonlik toe onder die sneeu.

            Met die vinnig vlieg het ons ‘n halfuur vroeër op die lughawe Schwechat in Wien aangekom, om halfses die oggend. Omdat dit so vroeg was, was daar maar nog min mense en kon ons vinnig by die bagsievervoerbande uitkom – ek natuurlik nog in my hokkie sodat ek maar min kon sien wat buite aangaan.

            Oupa het die vier groot tasse by die bagasie ontvangplek gekry, dit op ‘n trollie gestapel en my in my hokkie heel bo-op gesit vanwaar ek alles goed kon sien. Ek het gesien die Oumense loer vir mekaar en mompel iets van “Nou moet ons nog deur die doeane gaan en die Oostenrykers kan maar moeilik wees.” Dit het my doodbenoud gemaak – sê nou my papiere was nie reg nie, wat het dan van my geword? Sou hulle my hou en in ‘n hok opsluit of my selfs terugstuur? Oupa het versigtigheidshalwe al my papiere en permitte uitgehaal en dit gereed gehou. Toe ons met die berg bagasie met my bo-op verby die doeaneman loop, het hy nie eers na ons gekyk nie en nie eers na my permitte gevra nie. Ek was nogal verlig maar ook darem baie vies want al my besoeke aan die veeaarts en die inspuitings was dus verniet!

            Oupa het uitgekyk vir die mense van die Ambassade wat belowe het hulle sal ons kom haal maar daar was niemand nie. Ons het toe maar in die aankomssaal gesit en wag. Gelukkig het Oupa my uit my hokkie gehaal en my na buite geneem. Net betyds, ek kon nie meer knyp nie, ek hoop die blomme voor die lughawe het dit oorlewe! Maar die lekkerste van alles was die bakkie water wat Ouma daarna vir my gegee het – dit was die lekkerste water wat ek ooit geproe het.

Was dit nou lekker water
Was dit nou lekker water!

Later het ek ontdek dat dit nie net maar lekker was omdat ek so dors was nie maar dat Wien werklik die lekkerste water in die wêreld het – dit kom van Schneeberg af naby Wien waar dit oorspronklik suiwer sneeu was. Wanneer die sneeu smelt loop die helderskoon water deur pragtige woude en daarvandaan afdraende per pyplyn na Wien. Dit hoef nie eers gepomp te word nie en dis so skoon dat dit nie nodig is om dit chemies te behandel nie en die lekkerste van alles -  dit is altyd yskoud, somer en winter!

Toe het ons maar gesit en wag en wag met niemand wat opdaag om ons te kom haal nie. Net na agt toe die Ambassade se kantore oop was, het Oupa gebel en gevra wat is hulle planne? Hulle weet toe te vertel dat daar iemand was om ons te kom haal maar omdat hulle ons nie gesien het nie, het hulle maar weer huis toe gegaan. Dink julle ek glo hulle? ‘n Mens kon ons met ons berg tasse en die hokkie bo-op miskyk nie. 
 Nietemin het daar so na omtrent ‘n halfuur ‘n tannie Nicolette en ‘n oom Josef met ‘n kombi gekom om ons na die hotel te neem. Hulle was gelukkig baie vriendelik en behulpsaam maar dit was vir my snaaks dat oom Josef aan die regterkant van die pad gery het, nie soos hier by ons nie. Gelukkig was ons nie in ‘n ongeluk nie. Ek het eers later agtergekom al die mense in Oostenryk ry aan die regterkant van die pad, dit is nou behalwe die baie mense wat hulle Geisterfahrer noem en wat aan die verkeerde kant van die pad ry en ongelukke veroorsaak! 

Rufus/image011.jpg
Almal wag vir mense, net nie vir ons nie!

Kliek vir Groot
Die Donaukanaal wat deur die Stad loop
Die Donaukanaal wat deur die Stad loop

            Terwyl ons na die hotel gery het, het ek by die venster uitgekyk en my verkyk aan die ou stad met sy baie mooi geboue en pragtige groen bome. Ons het al langs ‘n kanaal gery waar die water vinnig gevloei het, die Donaukanal. Dit was baie anders as by ons en die mense het ook ‘n bietjie anders gelyk en al die uithangborde en advertensies was in Duits wat ek darem so hier en daar kon verstaan.

‘n Worshond in ‘n Viersterhotel

Uiteindelik het ons by ons hotel, die Hotel Kaiser Franz Josef in Grinzing, aangekom. Die hotel is in Sieveringstrasse, ‘n baie besige straat. Oom Josef het ons tasse afgelaai en ons het ingeboek. Dit was nie eers snaaks vir die hotelmense dat ‘n hond ook ingeboek het nie.

 

Rufus/image016-1.jpg
Hotel Kaiser Franz en Ontbytkamer

 Die naam van die hotel het vir my deftig geklink en dit het nogal deftig gelyk ook vir hond wat nog nooit in ‘n hotel was nie. Ons is na ons kamer nadat ons eers met ‘n hysbak gery het, ook ‘n eerste ervaring vir my. Die kamer was op twee vlakke met ‘n kombuis en sitkamer wat op ‘n klein balkonnetjie uitgegaan het onder, en dan ‘n badkamer, studeerkamer en slaapkamer bo wat ‘n mens met ‘n steil trap bereik het. Dit klink alles goed maar dit was maar nouerig en ek het al klaar verlang na ons grasperk by Farmside. Buite het die motors en busse verby gesnork, ook maar raserig. Ons het darem twee TV’s gehad en ‘n radio en CD-speler ook.

 

            Die Oumense was maar moeg, veral van die lang vlug en die drie ure se wag op die lughawe. Maar die eerste ding wat Ouma gedoen het was om vir my kos te gee – was dit lekker! Daarna het hulle gebad en skoon aangetrek en ‘n bietjie gerus. Ouma was net baie bang ek klim met die steil trap op en maak my rug seer, jy weet mos Worshonde mag nie trappe klim en spring nie, dis nie goed vir hulle ruê nie. Hulle het dus altyd die trap met ‘n groot tas geblok en my op en af gedra. Ek het nie juis omgegee nie!

Rufus/image019.jpg
Minder gevaarlike vriend in die hotelportaal

Ons Verken Die Nuwe ,Vreemde Omgewing

            Nadat hulle gerus het, het ons ‘n bietjie gaan stap om die omgewing te verken, ek natuurlik aan’n leiband want die Wieners is baie streng oor Korb und Leine, dit is nou ‘n mandjie oor jou bek sodat jy nie ander honde of mense kan byt nie (bid jou dit aan, ek ‘n beskaafde, goed opgevoede hond wat so iets sal doen!) en dan natuurlik ‘n leiband. Dan moet elke hond ook nog ‘n hondelisensie aan sy halsband dra. Omdat Oupa ‘n diplomaat was, was dit nie vir my nodig om ‘n lisensie te dra nie. Ook maar goed so, wie wil nou met ‘n nommerplaat om jou nek loop. Gelukkig het hulle ook nie vir my ‘n Korb aangesit nie en ook nooit een gekoop nie, dit was darem ‘n bietjie benede my waardigheid. Ander minder gevaarlike honde het ook nie ‘n Korb gedra nie soos my vriendjie hieronder.

            My eerste indrukke was dat dit baie anders as by ons in Pretoria gelyk het en ek het my verkyk aan die besige verkeer en al die mense wat met hulle honde aan Leine gestap het. Ek was maar skrikkerig vir die vreemde honde (om die waarheid te sê ek was doodbang) ‘n hond het nooit geweet of hulle jou as ‘n buitelandse indringer of asielsoeker aansien nie en die meeste van hulle was maar baie groot. Dit was vir my ‘n vreemde ervaring om so in die straat rond te loop aan ‘n leiband saam met so baie ander honde aan leibande. ‘n Hond  sien mos nie so iets in Pretoria nie want elke hond het sy eie tuin.

Rufus/image024-1.jpg

             In Wien bly die arme honde die hele dag in woonstelle en moet uit as hulle wil Gassigehen soos die Wieners sê! Die gevolg was dat ‘n mens hulle Hundestrümmerl orals op die sypaadjies sien. Party mense wat Wien besoek konsentreer so waar hulle moet trap dat hulle gladnie die mooi dinge in die stad raaksien nie! Hulle sê die munispaliteit moet elke dag 5 ton van die goed optel, omtrent ‘n groterige lorrie vol! Wien is daarom verdeel in twee groepe mense, hondeliefhebbers en hondehaters wat net nie die Strümmerl kan vat nie. Daar is gedurig ‘n groot bakleiery tussen dié twee groepe. Party hondehaters sit rooi vlaggies in die hopies waar hulle dit op die sypaadjies kry. Ander sit dreigende plakate op soos hierdie een wat sê: Nie hier nie! Anders ... (skiet ek jou).

            Ek was self skaam oor my mede honde se gedrag – ek meen, hulle kon darem net af van die sypaadjies gestap het. Van sypaadjies gepraat  - as die hopie op die sypaadjie lê, is dit die gebouopsigter se plig om dit op te tel. As dit op die grasperk lê, is dit die Stadsraad se parke afdeling wat moet skoonmaak. Maar as dit af van die sypaadjie, in die straat lê, dan is dit die straatveërs se taak! Al die burokrasie oor ‘n natuurlike afvalproduk!

Rufus/image026.jpg
Stofsuier vir Hundestrümmerl

           Oupa het my gelukkig altyd na ‘n eilandjie met groot bome daarop  in ‘n baie stil straatjie naby die hotel geneem waar ek my besigheid rustig en ongestoord kon doen, weg van die voete van derduisende Wieners. Ons het maar altyd weer teruggegaan na die plek toe. Eendag het Oupa in die Bybel gelees van die Jode wat Baal se tempel afgebreek het en dit vir ‘n latrine gebruik het, van toe af het ons die eilandjie Baal se tempel genoem.

Weenseworse, ‘n Ander Spesie

            Wat my opgeval het, was dat daar in Wien baie min Worse was wat soos ek gelyk het. Ek kon dit nie verstaan nie, het ons Worse dan nie van Europa af gekom nie? Min het ek geweet ‘n mens kry ander soort Worse ook! Daar was die ernstige tipes, die mense noem hulle Rauhaardackels, met sulke steekhare. Hulle het vir my nes oupas met baarde gelyk wat die lewe baie ernstig opneem. En dan was daar die ander soort wat vir my aan die begin maar baie sissierig gelyk het, met sulke lang hare en waaiersterte. Die mense daar noem hulle Langhaardackels. Ek het my eenkeer boeglam geskrik toe ons in die woud gaan loop en so ‘n klein langhaar flerrie op my afgestorm het – ek het darem my waardigheid. Ouma moes my onder haar arm neem om my te beskerm teen die ongevraagde attensies. Min het ek geweet van ‘n Langhaardackel later in my lewe!

Rufus/image028-1.jpg
Ernstige Oupa-Wors en Sissierige(?) Langhaarworse

Aan die Begin in Wien ‘n Moeilike Aanpassing

            Aan die begin was dit nogal interessant in die hotel, daar was soveel nuwe dinge om te ervaar. In die oggend het ek saam met die Oumense na die ontbytkamer gegaan. Dit was ‘n buffetontbyt waar ‘n mens jouself bedien en kan eet netsoveel as jy wil. Oupa het dan altyd ekstra gebraaide worsies en kaas en sulke lekker dinge ingeskep en vir my gevoer waar ek langs die tafel aan my leiband gesit het. Die mense by die ander tafeltjies het gedink dis baie snaaks! Veral daardie gebraaide klein worsies was heerlik. Maar nie lank daarna nie het ek agtergekom daar is fout met my maag. Die Oumense het hulle doodgeskrik en omdat hulle nog nie ‘n veerarts geken het nie, het Oupa vir oom Wiets by die Ambassade, wat ‘n Yorkie gehad het, om hulp gevra. Oom Wiets het dadelik gesê dis die varkworsies wat die probleem was en daarmee was my lekker ontbyt ook iets van die verlede.

 

            Oupa het die dag na ons aangekom het, begin werk en ek en Ouma was dan die meeste van die dag alleen. Aan die begin het ons baie rondgeloop maar omdat ek so skrikkerig was vir die ander honde het Ouma my lang ente gedra. Dan het die mense Ouma altyd gestop en gevra wat is verkeerd, is ek dan siek? Omdat dit begin koud word het, is ek eendag saam met die Oumense in die trem na die dierewinkel Zoo Sauer langs die huis waar Schubert gebore is en  waar hulle vir my ‘n deftige jas gaan uitsoek het, een wat in Italië gemaak is en wat met ‘n goue ketting vasmaak. Ek het baie spoggerig daarin gelyk veral omdat ek omtrent die enigste hond met ‘n jas was. Die Wieners is baie lief vir hulle honde daarom kan ek nie verstaan hoekom hulle nie vir hulle honde jasse vir die koue winters koop nie

 

Rufus/image031-1.jpg
VN-Gebou waar Oupa al sy vergaderings gehad het

            Maar naderhand het die eensaamheid vir my en Ouma daar in die hotel begin vang, sy het al haar kinders en kleinkinders en haar vriendinne in Pretoria agtergelaat en ek my hondefamilie. Dan het sy my sommer styf vasgehou en van verlange gehuil dat die trane so loop maar gesorg dat Oupa dit nie agterkom nie. Ai, ek en Ouma het darem saam swaar gekry, jy kan maar sê ons het ‘n paar sakke sout saam opgeëet. Oupa was baie besig by die werk met vergaderings en al die nuwe goed wat hy moes leer. Ons het nog nie ‘n motor gehad nie en hy moes omtrent elke dag met bus en moltrein heen en weer ry na die VN se kantore. Hy het nie tyd gehad om eensaam te voel nie, net benoud oor al die nuwe dinge wat hy onder die knie moes kry.

Rufus/image036-1.jpg
Ouma by die beeld van Lilli en by Motzl se beeld

            Om die tyd om te kry het ek en Ouma maar baie rondgestap om die omgewing te leer ken, partykeer baie ver. In Sieveringstrasse waarin ons hotel was, het ons eendag op ‘n bronsbeeld van ‘n eend afgekom met ‘n mooi storie daarby. Daar was lank gelede regtig so ‘n eend met die naam Lilli en sy het altyd op die tremspoor gaan sit en dan moes die trem stop en die  kondukteur moes afklim en haar van die spoor aftel – elke keer as die trem daar verbygaan! Ten spyte daarvan het sy baie oud geword.

Dan was daar ook nog die standbeeld van ou Motzl met sy broodsak wat in die ou dae in sonskyn, reën of sneeu getrou vir die mense brood by die huis afgelewer het. Nog ‘n ent verder in Sieveringstrasse was daar ‘n steengroef waar die Romeine, wat Wien gestig het en dit Vindobona genoem het, tweeduisend jaar gelede klip uitgehaal het om hulle bruê en geboue mee te bou.

Depressie en Ouma ontmoet ‘n Engel Dit het begin koud word en die dae al hoe korter want die winter was op hande. Dit kon ‘n mens ook sien aan die herfsblare wat pragtig verkleur het en wat deur mense met sulke oranjepakke aan, in groot hope bymekaar gehark is voordat ‘n vragmotorstofsuier dit kom opsuig het. Die vooruitsig van die winter met die min son en baie koue het my maar baie depressief laat voel. Ek onthou eendag het ek sommer onder die groot kussing op die bed ingekruip om weg te kom van alles. Die Oumense kon my nêrens kry nie en het angstig na my gesoek – hulle het gedink ek het weggeloop. Naderhand het hulle my onder die kussing gekry en was hulle baie bly. Ek het ook naderhand my eetlus verloor en dit was net nie meer lekker om tydig en ontydig in die reën en donker na Baal se eiland geneem te word nie. Ek het al hoe meer gewens ek was maar liewer by die huis by ma Katryn en my familie in die lekker sonskyn.  

            Eendag het ek en Ouma maar weer die strate ingevaar. Die oggend het Ouma gebid en gevra dat die Here die dag ‘n engel oor haar pad stuur omdat sy so eensaam was. Toe ons nog so loop, kom daar twee tannies by ons verbygestap. Ouma steek vas en sê “Hulle praat mos Afrikaans!” maar omdat sy nie seker was nie loop ons toe maar aan. Skielik sê Ouma “Dit was Afrikaans!” en ons sit hulle agterna. “Ekskuus, praat julle Afrikaans?” vra Ouma en hulle gesigte word sommer bly, “Ja en jy?” vra hulle. Hulle is dadelik saam met ons hotel toe waar Ouma vir hulle tee gemaak het en uitgevind het hulle is ook van Hatfield Kerk. Nog ‘n gebed was verhoor! Die een tannie en Ouma het goeie vriende geword, sy het weer by Ouma kom kuier en tot vandag toe nog skryf hulle vir mekaar.

   

           

Rufus/image041-1.jpg
Moltrein Moltreinstasie

Allerhande Bahne - Schnellbahn, Strassenbahn en U-Bahn

Die gewoond raak aan die openbare vervoer was vir my ook ‘n aanpassing. In Pretoria het ek nie eers dikwels motor gery of skaars ‘n bus gesien nie, wat nog van ‘n onbekende ding soos’n moltrein? In Wien is daar ‘n baie goeie vervoerstelsel waarmee ‘n mens ooral kan kom. Ek was aan die begin net ‘n bietjie deurmekaar met wat was wat van die Strassenbahn, Schnellbahn of U-Bahn. As ‘n mens dit op Afrikaans sê dan is dit die straatspoor, snelspoor of ondergrondspoor.  Dan was daar nog die busse ook. Vir my was die interessantste die U-Bahn of moltrein. ‘n Mens gaan af met ‘n roltrap (iets wat ek ook  nie geken het nie) diep onder die grond en dan ry die trein onder die grond soos ‘n mol! Ek was maar skrikkerig vir die roltrap maar gelukkig het die Oumense my altyd gedra sodat my tone nie miskien vasgeknyp word nie – ek was doodbang daarvoor. Ek het gewonder hoe grawe hulle die tonnels sonder dat die geboue inmekaarval want die tonnels gaan reg onderdeur die stad. Ek het ook gesien hoe inspekteurs mense wat sonder kaartjies gery het -  hulle word Schwarzfahrer genoem - van die trein afgehaal en swaar boetes gegee het.

Rufus/image043.jpg
Die D-trem (Nussdorf) voor die Opera

Die trems, wat die Wieners Bims noem, was vir my ook baie interessant, veral omdat hulle bo-op die grond loop saam met die motors in die straat en ‘n mens kan die omgewing dus bekyk. Maar hulle was nie so vinnig soos die moltreine nie en ook ‘n bietjie outyds en lawaaierig met hulle klokke wat lui in plaas van toeters. Maar praat van outyds, die drywer kom kort-kort kyk na ‘n kas onder een van die banke en dan roer hy met so ‘n grafie daarin. Ek het gewonder wat dit kon wees en toe ek loer, sien ek dit was growwe sand. Dit was vir my snaaks dat die drywer sy eie sandkas saamry totdat ek later uitgevind het die trem gooi die sand op die spore net voor die wiele om dit te help rem!

Uit die Kerk Geskop (amper!)

Oupa en Ouma wou baie graag by ‘n kerk uitkom in Wien maar omdat die mense in Oostenryk omtrent almal Katoliek is, was dit maar moeilik om ‘n kerk te kry. Ons het gehoor van ‘n Metodiste kerk waar party Suid-Afrikaners heengegaan het en het een Sondag afgesit daarheen met bus, moltrein en trem. Die Oumense wou my nie alleen by die hotel los nie en het my toe maar saamgeneem. Toe ons by die kerk wou ingaan het die koster, nogal ‘n swartman, gesê julle kan nie met ‘n hond ingaan nie. Oupa het hom baie vererg en vir die koster gesê dat ons dan maar gaan loop as ons nie welkom is nie. Hy het my onder die arm vasgeknyp en vir Ouma gesê “Nou loop ons!” Die man het agterna gehardloop en gesê nee ons kan maar ingaan solank ek nie ‘n steurnis veroorsaak nie. Kan jy dit glo? Ons het toe maar ingegaan en gaan sit. Die predikant het so ‘n lang swart jas soos ‘n rok aangehad en het nie juis gepreek nie, hy het vertel van die dae toe hy in die lugmag was! Die Oumense het maar ongeduldig rondgeskuif en toe ons ‘n kans kry teen die einde, vinnig uitgeloop en huis toe gegaan. Ons het nie weer na daardie snaakse kerk toe gegaan nie.

Rufus/image046-1.jpg
Russiese Saadkraai Kraaiswerm

Ander kere het ons na ‘n kerk gegaan nader aan waar ons gewoon het. Een van Oupa se kollegas was ‘n diaken daar en baie Amerikaners het na die kerk toe gegaan. Die mense was daar heelwat vriendeliker en niemand het my snaaks aangekyk as ek saamgekom het nie. Ek het deur die hele diens maar op ‘n stoel tussen die Oumense gelê en luister. Ek dink daar is min indien enige honde wat al ooit in ‘n kerk was soos ek. Later het die klomp Boere in Wien ‘n Afrikaanse kerk gestig en dit was toe neusie verby vir my kerkganery – Boere verdra ‘n hond nog minder in die kerk (ons is mos onrein diere!) en ek moes maar by die huis bly!

 Sneeu en Kraaie

            Twee ander dinge wat ek onthou toe ons in die hotel was, is dat toe ons een oggend wakker word, het daar sneeu op die balkon gelê en in die straat kon ‘n mens ook sneeu sien – die eerste keer in my lewe dat ek soiets sien!

 

            Die ander ding is die geweldig baie swart kraaie wat sommer van nêrens af verskyn het. Die mense in Wien noem hulle “saadkraaie”. Ons het later gehoor dat in Oktober elke jaar met die aanbreek van die winter in Wien daar tussen omtrent 200 000 tot 300 000 kraaie van Rusland af kom waar dit dan te koud is en alles toegesneeu is. Veral in die middag wanneer hulle na hulle slaapplekke in die woud gevlieg het, was die lug sommer swart van hulle.

Rufus/image049.jpg

Ons Soek Huis

            Die enigste ligpunt van ons tyd in die hotel was Tannie Nicolette wat nou en dan

vir ons huise gaan wys het wat ons kon huur. Dan het ons ‘n bietjie uitgekom. Maar Oupa se vereistes was streng vir so ‘n huis; vir ons Worshonde  moes die huis nie trappe gehad het nie, dit moes ‘n tuin hê, naby ‘n bus- of tremroete wees en ook ‘n garage hê vir die motor wat ons sou koop. ’n Mens behoort nie jou motor buite te los in die winter nie, dit sneeu toe en jy moet dit letterlik uitgrawe en dan verys die slotte ook nog. As jy nie presies onthou het waar jou motor geparkeer is nie kon jy dalk die verkeerde motor oopgrawe! 

 

            Huise met ‘n tuin is in Wien so skaars soos hoendertande so dit was maar ‘n gesoek. Daar was een huis in ‘n straat met die naam Kaasgraben waarvan ons baie gehou het maar toe besluit die eienaar hy gaan net die helfte van die huis verhuur en dit sou dan te klein vir ons wees. Ons was naderhand moedeloos, Tannie Nicolette seker ook maar sy het niks gesê nie, sy was te ordentelik.

Rufus/image051.jpg
Ons groen woonbuurt

           

Rufus/image055-1.jpg

Ons trek in!

 Uiteindelik ‘n huis in Armbrustergasse

        

Uiteindelik het sy vir ons ‘n huis in Armbrustergasse op die grens tussen Heiligenstadt en Grinzing gaan wys – dit was net wat ons wou hê. Die huis was op die busroete en Oupa (wat toe nog nie ‘n motor gehad het nie) kon sommer werk toe loop. Behalwe ons was daar nog sowat ses ander families in die meerfamiliehuis (soos hulle dit noem). Hulle was almal Amerikaners behalwe die Japannese wat ‘n bietjie later in die woonstel bokant ons ingetrek het.

 

Daar was ‘n lekker groot tuin met ‘n grasperk vir my en met groot kastaiïngbome en ‘n laning struike wat ‘n lelike ou skewe muur toegemaak het. Die kastaiïngbome laat val net voor die winter sulke stekelrige sade wat ‘n hond se voet erg kan steek! In die winter wanneer dit koud is, is daar mense wat die kastaiïngs braai en dit verkoop onder die naam “Maroni”.

Rufus/image056.jpg
Kastaiïngs onder die bome

            Aan die begin het ek so ‘n bietjie geskrik vir die diertjies met die lang ore wat op die tuinmuur rondgehardloop het en wat ek nie geken het nie – ek het gewonder of dit die Husse met lang ore is waarvan die Oumense dikwels praat. Later het ek uitgevind dit was eekhorinkies en dat hulle nie lang ore het nie maar dat die lang hare daarop dit so laat lyk. Hulle was maar skaam diertjies en as ek nader gestap het om kennis te maak, het hulle vinnig laat waai.

            In die woonstel langs ons het ‘n Amerikaanse vrou en haar seuns gewoon. Sy het twee enorme windhonde gehad, iets wat ek nog nooit vantevore in my lewe gesien het nie. Snaakse honde, maer en met sulke laaaang bene, seker so lank soos twintig Worshonde s’n! Sy het glo die honde in Amerika gered van ‘n windhondresiesbaan waar hulle twee weke sonder kos opgesluit was, hulle hare en hulle tande het al begin uitval. Arme goed. Sy was kort-kort by die veearts met hulle want hulle het vir die res van hulle lewe met hulle tande gesukkel. Ek het hulle maar jammer gekry want ek het gehoor windhonde moet baie oefening kry maar hulle was heeldag in die huis opgesluit en het droewig gehuil as hulle mense nie tuis was nie. Maar van hondegehuil gepraat! Die mense oorkant die straat het vyf  Huskies gehad en kon hulle huil! Die een het begin en dan het die ander ingeval en saamgesing, dit het soos ‘n trop wolwe geklink. Ek was maar baie lugtig vir hulle – hulle het sulke ligblou oë gehad wat gelyk het of hulle deur jou kan kyk. Omdat hulle sneeuhonde is, het hulle sommer heeldag lekker op die sneeu en ys gelê en slaap.

Rufus/image063-1.jpg

            Maar so van honde gepraat – my en Oupa se held was natuurlik die bobaas Weense speurhond Rex wat ons weekliks op die TV kon sien wanneer hy al wat ‘n skelm was, in Wien  gevang het. Soveel intelligensie sien jy by baie min mense - wat nog te sê by honde - en ons kon nooit  wag om sy programme op ORF (dis nou Oostenrykse TV) te sien nie.

 

            Ons het so gou ons kon uit die hotel na die huis toe getrek. Gelukkig het die Ambassade vir ons meubels gegee. Party daarvan was maar oud en nie so baie mooi nie (Oupa het altyd gesê dis Mbeki se meubels) maar dit was beter as niks. Ons goed wat met die houer op die skip gekom het was ook gereed om afgelewer te word. Toe was dit weer ‘n uitpakkery van ‘n ander wêreld. Maar ek het sommer beter gevoel in ons eie huis met so baie bekende dinge om jou. Al was die winter op ons was die huis lekker warm binne in. Daar was so ‘n kas in die portaal waar dit van tyd tot tyd begin brom het – Oupa het gesê dis die binneshuise verhitting wat aankom en ons het nooit in die winter in die huis koudgekry soos in Pretoria nie, al het dit ook gesneeu.

Rufus/image066.jpg

Ek gaan IKEA toe

Ek is eendag saam met Ouma en Tannie Nicolette om te gaan gordyne uitsoek by ‘n baie groot  winkel, IKEA. Dit was die eerste keer in my lewe dat ek in ‘n winkel kom en dan nog so ‘n groot een, ek het my verkyk aan alles. In Suid-Afrika gaan honde mos nie juis winkels toe nie. Toe Ouma-hulle so besig was om gordyne uit te kies, het ek die pad gevat om na al die mooi dinge in die winkel te kyk. Na ‘n ruk hoor ek Ouma waar sy op en af hardloop en benoud vir die mense vra “Have you seen my dog?” Toe een van die winkelmense my vir Ouma wys, het sy sommer aan die huil gegaan – sy het gedink sy het my vir ewig verloor en ek wou nog na so baie goed gaan kyk het!

 

Vreugdevolle Dag - Ma Katryn en Jakkie kom aan

            Maar die lekkerste van alles was die vooruitsig om weer vir Ma Katryn en ou Jakkie te sien want Oupa het dadelik met Lilla gereël dat die hondereisagentskap hulle by die huis in Faerie Glen gaan haal om hulle per vliegtuig na ons aan te stuur. Die dag toe hulle op die lughawe aangekom het, het Oom Hofmann van die Ambassade en Oupa afgesit met die kombi lughawe toe. Anders as ek het Ma Katryn-hulle nie by die mooi gedeelte van die lughawe met sy blink vloere en deftige winkels aangekom nie maar by die vraggedeelte. Oupa sê dit het maar oes daar gelyk. Toe hulle daar aankom het oom Hofmann gevra waar die honde is, toe sê ‘n man hy sal gaan gaan kyk of hulle al gekom het en spring op so ‘n klein trekkertjie met ‘n sleepwaentjie en jaag daar weg. Oupa sê hy het na ‘n ruk ‘n vreeslike geblaf en getjank gehoor lank voordat hy die trekkertjie gesien het. Nie lank daarna nie kom hulle in hulle kas met ‘n spoed om die draai en toe Katryn en Jakkie hom sien was die gort gaar – hulle het geblaf en getjank dat hoor en sien wou vergaan. Oupa sê hy was so skaam vir die twee dat hy agter ‘n pilaar weggekruip het sodat hulle hom nie sien nie, anders het hulle te veel lawaai solank Oom Hofmann die papiere en permitte laat nagaan het.

 

            Die twee was toe al die tyd saam in ‘n groot kas (arme Ma Katryn, sy was juis nie baie lief vir ou Jakkie nie) wat Oupa-hulle dadelik in die kombi gelaai en vinnig afgesit het huis toe. By die huis aangekom is hulle dadelik oopgemaak en die twee is met ‘n vaart tuin toe. Hulle kon net nie meer knyp nie! Ons moes toe hoor hulle was langer as ‘n dag en ‘n nag in die hok sonder te ete of te drinke en het saam met die tasse gevlieg, nie soos ek besigheidsklas nie. Hulle is eers na Brussel in België - nogal met SABENA wat intussen bankrot gespeel het - voor hulle ‘n ander vliegtuig na Wien gekry het – arme goed. Maar was ons bly om mekaar weer te sien!

Enter content here

Rufus vervolg, tweede blaai.

Gaan trug na die begin van hd Bladsy

Enter supporting content here