|
Memoirs van Rufus deel Twee.
Hier volg 'n verhaaling deur my ou neef Nic von Wielligh.
| Rufus Baron von Wufus |

|
Deel Twee van Die Memoirs van ‘n
veelgerese,welbelese en veelgeprese WORSHOND.
Deur Rufus Baron
von Wufus
Maart 2004 Voor Die Begin
Al ooit gehoor van ‘n
hond wat ‘n boek oor sy lewe geskryf het? Nie! Dan is dit hoog tyd – tye het verander. Was ‘n hond nie die
eerste ruimtevaarder lank voor mense dit aangedurf het nie? Soos my vriendin uit Oostenryk, Hemma von Hundstorf, die
anderdag in ‘n e-pos aan my skryf (sy is ‘n bietjie van ‘n aktivis):
Te lank is ons soos honde behandel. Dis tyd dat ons ons regmatige
plek in die Wêreld inneem en nie meer tevrede is met die krummels wat van die tafel af val nie. Wie sorg vir
mense se veiligheid, wie vang die skelms, wie spoor die dwelms op, wie help blinde en ander gestremde mense,
wie vaar die ruimte in, op wie toets hulle medisyne en voer hulle operasies uit voor dit op mense getoets word, ek vra jou
wie? Ek hoor daar by julle is ‘n gesegde “so ‘n ondankbare hond!” Verregaande! Ons is dan juis vir
alles dankbaar!

|
| Beethoven skryf musiek ... Beethoven het hier gewoon |
Ons woon in Wien‘n Klipgooi van Beethoven se Huis
Ons huis in Armbrustergasse was naby Probusgasse en Pfarrplatz waar Beethoven in verskillende huise
gewoon het, jy kan maar sê ‘n klipgooi van ons af. As ek na die veearts, dr Krempl toe gegaan het, het ons altyd
by die huise in die ou nou straatjie verbygeloop en het ek sommer hoendervel gekry om te weet die beroemde komponis het daar
gewoon en dikwels in dieselfde ou straatjie geloop. Ons het ook partykeer langs die Beethoven-spruitjie gaan stap waar die
beroemde man dikwels gaan wandel het en na die voëls geluister het om inspirasie te kry vir sy Sesde Simfonie. Daardie dae was Heiligenstadt, dis nou ons buurt se naam, ver buite die stad wat toe nog met ‘n
hoë muur omring was, jy kan maar sê Heiligenstad was plaasgebied. Daar was
ook ‘n Spa, of warmbad, by Heiligenstad en hierheen het Beethoven gekom vir sy siekte en gehoop die warm water sou help.
Hier het hy ook vir die eerste keer in ‘n brief aan ‘n familielid geskryf van sy siekte. Die brief sou later bekend
word as die Heiligenstadt Testament. Hierdie siekte waaroor hy baie verleë was, was sy doofheid wat
al hoe erger geword het. Hy was maar 18 jaar oud toe hy dit die eerste keer agtergekom het. Toe hy sowat 200 jaar gelede die
Heiligenstad Testament geskryf het (hy was toe maar 32 jaar oud), was hy omtrent al heeltemal doof. ‘n Mens sou wonder
waaroor was hy dan so verleë? Hy was so moedeloos omdat hy nie sy eie musiek wat hy geskryf het, kon hoor nie! Dink nou
maar hoe vreeslik moes dit vir hom gewees het, soos vir die beste rugbyspeler of ballerina in die wêreld wat skielik
‘n been verloor! Hy het die klavier so hard gespeel om die musiek te kan hoor dat die klaviersnare partykeer gebreek
het en die huisbase was so vies oor die lawaai dat hy telkens maar moes trek na ‘n nuwe plek toe. Eienaardig genoeg
het hy sy beste musiek geskryf toe hy heeltemal doof was, omtrent soos ‘n skilder wat sy mooiste skilderye geskilder
het toe hy heeltemal blind was. ‘n Mens kan dit amper nie glo nie. Nou dat ek oud geword het, weet ek wat dit is om
doof te word en ek het baie simpatie met die arme Beethoven.

|
| Wynoes op Kahlenberg |
Weinberge – Druiwe op ons Drempel
Heiligenstadt en Grinzing is besonder omdat daar tot vandag toe nog baie wingerde is. Die wingerde was
naby ons huis in Armbrustergasse en vroeg in die oggend kon jy die boere daar verby hoor ry met hulle trekkertjies om in die
wingerde op die heuwels te gaan werk, hulle noem dit Weinberge. In Oktober en November is daar ‘n groot
doenigheid wanneer die druiweoes ingesamel word om wyn te maak en heeldag ry die trekkers en sleepwaens vol druiwe by die
huis verby. In die somer is die wyn dan reg en word saam met kos bedien in die baie Heurigers (restaurante)
wat in ons omgewing was.

|
| Bach-Hengl se Heuriger in Grinzing |
Van restaurante gepraat, die lekkerste een vir die Oumense was beslis Brummbärli naby ons huis.
Die restaurant is vol teddiebere, honderde van hulle, van groot na klein. Hulle het so dikwels daarheen gegaan dat die eienaar
hulle naderhand goed geken het en as hy met sy Jagdhund gaan stap en hulle op straat teëgekom het, het hy hulle altyd
op die naam gegroet. Vir my was dit ‘n goeie ding want ek het dikwels die lekker kos wat die Oumense nie kon opeet nie
vir myself gehad. Hulle het net vir die kelner gesê “Einpacken bitte” en dit dan vir my gebring!
Kerkklokke van die Ouwêreld
Wat my terug in Pretoria baie laat
verlang na ons huis in Armbrustergasse is die kerkklok in die St Michaelkerk naby ons huis. Nie net het dit
op verskille tye gelui nie, maar op elke kwartier die tyd aangegee. Maar ‘n mens moes leer om die gelui te verstaan.
Aan die begin eendag om twaalfuur het ek gehoor die klok lui sestien keer en nie twaalfkeer nie! Naderhand het ek agtergekom
die klok lui eenkeer om kwart oor, tweekeer op die halfuur en driekeer om kwart voor. Op die uur lui dit dan vier keer en
dan eers die getal slae wat die uur aandui. Ai, dit was so wonderlik om na die klokgelui te luister, dit het ‘n mens
laat voel jy leef nou in ‘n ander wêreld, die mense noem dit die Ouwêreld. Ek kan verstaan waarom hulle
dit so noem want naby ons huis was daar ‘n ander restaurant, Schöne Aussicht,
wat gebou was op fondamente van 900 jaar oud.

|
| Sneeu in ons straat en in ons tuin |
Wintertoestande – nie ‘n Grap nie
Na al die opgewondenheid oor die
intrekkery en Ma Katryn en ou Jakkie se aankoms, het die lewe in Wien begin om meer normaal te word maar ons was maar ‘n
rukkie in ons huis toe het die winter toegeslaan het met die dikste sneeu.
Ons moes natuurlik gewoond raak aan die koue winter buite met die sneeu en reën. Die sneeu was nie ‘n grap
nie! Synde ‘n goed-opgevoede hond het ek nog nooit wat ek kan onthou ‘n glipsie in die huis gemaak nie, so dit
was maar altyd buitentoe. Hoe nou gemaak wanneer ons Worshonde se kort beentjies in die sneeu wegsak totdat jou maag op die
sneeu lê – dit was nogal ‘n probleem. Oupa het naderhand maar ‘n sneeugraaf moes koop om vir ons paadjies
te maak tot op die grasperk.

|
| Ek met my designer jas op soek na n stukkie grasperk |
Die winter in Europa is nie speletjies
nie – dit het ek terdeë uitgevind. Hier by ons skyn die son in die winter darem in die dag en in die nag lê
ek warm by die Oumense in die bed. Maar dit is nie vir alle diere so maklik nie, net
die bere met hulle dik pelsjasse geniet dit blykbaar. Gelukkig is daar mense wat goed vir hulle diere sorg soos die koue speenvarkie
wat deur sy baas in ‘n lekker warm bad gesit is toe dit baie koud geword het.
In die winter is dit ook maar moeilik vir die arme voëltjies om kos te kry omdat alles toe is onder die sneeu
en dan moet hulle gevoer word. Oupa-hulle het altyd sakkies met ‘n mengsel van saadjies en vet gekoop wat die mense
Meisenknödel noem en dit aan die struike in die tuin gehang wat veral die Meisen geniet het.

Sowat van verskillende soorte veryste
water het ek nog nie gesien nie! Behalwe die sneeu (die Wieners maak ‘n verskil tussen droë en nat sneeu!) was
daar ook mis wat in die lug vries en op die grond val soos ‘n wit poeier, of baie fyn ysreën met klein yskorreltjies,
gewone hael soos ons dit ken of die water op die nat paaie en sypaadjies vries sommer skielik maar dit lyk maar nog steeds
nes water. Die probleem is hierdie ys is so glad soos seep. Ek het self gesien hoe Oupa by die huis uitgestap het op wat hy
gedink het nat plaveisel is en die volgende oomblik op die naat van sy rug gelê het met ‘n vreeslik verbaasde
gesig. Hierdie gladde ys noem hulle swart ys (seker omdat dit nie wit lyk soos ys nie) en is die oorsaak
in die winter van baie motorongelukke. Die motors ontdek skielik hulle remme help niks nie en dan is almal inmekaar in –
soos die Wieners sê, Blechsalat, of te wel blikslaai, is die resultaat!

Al was die winter so erg, was dit
altyd wonderlik wanneer die lente weer terug gekom het - geen weer of ys het dit gestuit nie.

|
| Nico en Jani by Armbrustergasse en by die Christkindlmarkt |
Ons eerste Gaste! Eendag hoor ek die Oumense praat
van die eerste gaste wat hulle verwag, dit was niemand minder nie as Nico en Jani nie. Maar
wat my stomgeslaan het, was om te hoor hulle kom alleen en Ma Kobie kom eers later. Hoe kon hulle so slim wees om alleen te
vlieg want hulle was dan nog so klein? Oupa het dadelik ‘n slee gaan leen by iemand sodat die kinders kon slee ry en
hy het ook ‘n televisiestel en videospeler gaan koop. Ouma en Oupa is die oggend vroeg weg van die huis lughawe toe
met die bus en trein (ons het toe nog nie ‘n motor gehad nie) om hulle te gaan haal. Oupa het hom blykbaar misgis met
die swaar tas en toe hulle met Nico en Jani by die huis aankom, het hy krom soos ‘n ou omie geloop – hy het sy
rug seergemaak. Hy moes toe maar na dokter Deecke toe gaan om hom in te spuit en pille te gee.

|
| Christkindlmarkt voor die Rathaus |
Een aand het die Oumense en Nico en Jani na die Ambassadeur
se deftige huis gegaan waar sy ‘n kerspartytjie gegee het. Oupa en Ouma het vooraf vir hulle gesê hulle moet Ambassadeur
Nosipho Mxakato-Diseko mooi groet en toe val hulle haar altwee onverwags om die nek en gee haar ‘n stywe druk. Sy het
baie daarvan gehou! Hulle is met sakke vol lekkergoed huis toe.‘n Klompie dae later het Ma Kobie ook aangekom en toe
het almal lekker rondgeloop. Ons honde het nie saamgegaan nie maar ons het gehoor die kinders het lekker slee gery op die
sneeu bo in die Wienerwald en in die restaurant op Leopoldsberg tot Frau Schmallvogel se verbasing warm sjokolade
en koue roomys saam bestel het. Hulle was ook by die Christkindlmarkt wat elke Kersfees
voor die stadsaal gehou word. Ek was maar bly ons het nie ook saamgegaan nie toe ek gehoor het hoe koud hulle gekry het!

|
| Riesenrad op die Prater |
Nog Gaste
Nadat Nico en Jani weer terug is huis toe (hulle het die volgende jaar weer kom kuier maar dié keer saam met
Pa en Ma) het ons in die drie jaar wat ons daar was ook ander gaste gekry, so baie ek kan nie eers almal onthou nie. Party
het ek goed geken soos Lilla en Elma (wat tweekeer daar was, partykeer was Armand en André ook vir ‘n rukkie
saam) maar ander was vreemd soos oom André se Ma en suster, Ouma se Niggie en haar man wat in Engeland woon (Tannie
Yvonne en Oom Reg) en die Van der Kouwes van Pretoria. Oom Tom en Tant Poppie van Farmside en Ouma se broer oom Ben, tannie
Anna en haar suster tannie Sannie het ek darem so ‘n bietjie geken. Net arme Ben en Jana kon nooit vir ons kom kuier
nie omdat hulle nie hulle besigheid in Upington alleen kon los nie ‘n
Mooi storie vir my is toe Oom Emile van der Kouwe en sy vrou Hermione by ons gekuier het – ek ken hulle al van Murrayfield
se dae af. Oom Emile wou vreeslik graag die Riesenrad sien en daarop gaan ry.

|
| Museum Karlsk |

|
| Karlskirche |
Die ou Riesenrad (dit beteken Reuse
Wiel) - is in 1898, dis meer as 100 jaar gelede, gebou en die meeste mense wat Wien besoek wil graag daarop
ry – nes Nico en Jani ook daarop wou ry. Die ou Riesenrad is in die Tweede Wêreldoorlog (waarvan ek julle later
sal vertel) swaar beskadig maar is weer herstel maar net die helfte van sy gondolas is teruggeplaas omdat die ou wiel so oud
is. Elke gondola kan twaalf mense vat en die wiel is omtrent 22 verdiepings hoog. Nou,
amper vergeet ek die storie van oom Emile. Toe hy, tannie Hermione en Ouma die dag gaan ry het, was daar ook ander
mense in die gondola met so ‘n groot soort hond – jammer ek het nooit die kans gekry om saam te ry nie! Oom Emile
hoor die hele tyd die ander mense noem sy naam maar as hy vir hulle kyk, dan kyk hulle nie vir hom nie. Hy was – hoe
sê julle – gepuzzle. Naderhand, toe hy mooi luister, toe hoor hy die mense praat met hulle hond en nie met hom
nie! Daar was ‘n groot gelag in die gondola toe die mense uitvind hy en die hond het dieselfde naam.

|
| Graben |

|
| So het ons Passat Variant gelyk |
Wanneer daar gaste was het die Oumense en die gaste
lekker rondgeloop en al Wien se interessante plekke bekyk en ons drie honde moes maar droëbek by die huis sit. Ons kon
maar net luister hoe vertel hulle van die groot Stefansdom, die Karlskirche, Schönbrunn kasteel en al sulke mooi plekke.
Dan het ek maar net gewonder hoe lyk dit daar? Partykeer het ek darem programme oor die TV gesien van die mooi plekke.
Oupa koop ‘n Stasiewa
Sowat agt maande nadat ons in Wien aangekom het, het Oupa eers sy motor gekry. In Wien koop jy nie ‘n
motor van die vloer af nie, jy sê presies vir die mense wat jy wil hê en dan bou hulle die motor vir jou. Oupa
se Passat Variant is in Duitsland gebou en dit het omtrent drie maande geneem vandat hy die motor bestel
het totdat hulle hom afgelewer het. Oupa was baie in sy skik met die stasiewa, ‘n turbo-diesel met Tiptronic automatiese
ratte (wat dit ookal mag beteken) en spesiaal vir ons honde ‘n bagasienet wat jy kan opslaan om die mense van die honde
te skei. Nou moet ek bieg dat Oupa dit net eenkeer gebruik het met ons drie honde want toe ons by die huis kom, het hy ontdek
dat Jakkie die splinternuwe bagasienet begin opvreet het – hy wou nie agter die afskorting sit nie! Arme Oupa het aan die begin maar baie gesukkel met die bestuur omdat die stuurwiel aan die verkeerde kant
sit, as ‘n mens dit nou met Suid-Afrika vergelyk. Dan moet jy ook nog aan die regterkant van die pad ry, as ’n
mens die ou nou straatjies paaie kon noem. Die straatjies is gemaak toe daar nog net perdekarre was! Ek het dikwels gevoel
hoe die motor se regterwiele woemp! op die sypaadjie opklim omdat Oupa geen gevoel gehad het oor waar die motor se regterwiele
gesit het nie. Mettertyd het hy darem reggekom en hoef ek my nie meer te geskaam het vir sy snaakse bestuursgewoontes
nie. Nou was dit darem ook baie makliker om besoekers by die lughawe te gaan haal of om winkel toe te gaan om kos te
koop.

|
| Rauchfangkehrers |
Benoud, die Rauchfangkehrer kom!
Eendag by die huis was daar ‘n kennisgewing opgeplak wat sê ons moes die volgende dag tuis bly want die
Rauchfangkehrer sou kom. Ek het my boeglam geskrik en my verbeelding het op loop gesit. Wat sou dit tog wees,
‘n mens kon skaars die naam uitspreek! Soos aangekondig, klop daar toe die volgende dag iemand aan die deur. Ouma en
ek het maar versigtig oopgemaak. Ek is nie skaam om te sê ek het agter haar rok weggekruip nie maar ek het myself manhaftig
gehou en darem hard geknor. Dit was toe twee mans met pikswart klere en sulke spierwit dophoedjies op en met goed wat soos
langsteelbesems lyk oor hulle skouers. Hulle is na ons kaggel toe en het in die kaggel opgekyk. Toe het ek en Ouma besef dis
skoorsteenveërs! Die prentjie wys Rauchfangkehrers wat aan ‘n marathon in Wien deelneem In
Wien besoek hierdie Rauch (rook) fang (vang) kehrer (veër) elke huis tweekeer per jaar om te sien of die skoorstene skoon
is en of die gasapparaat wat die water warm maak, goed werk. In Wien moet elke huis ‘n skoorsteen hê, al het dit
nie ‘n kaggel of ‘n stofie nie. Dit is ‘n wet wat gemaak is in die oorlogtyd toe daar nie gas of elektrisiteit
was nie en mense van die honger en koue doodgegaan het. As dit weer sou gebeur, kan die mense hulle dan self met ‘n
stofie of kaggel verwarm of kos kook. Klink vir my ‘n bietjie outyds! Maar nouja, die Wieners het uit baie swaarkry
geleer!
‘n Mens kan natuurlik nie aan Wien dink sonder twee belangrike dinge nie, die Donaurivier en die Wienerwald.

|
| Worshond op die Donau |

|
| Bote op die Donau |
Die Blou Donau
Die Donau ontstaan in die pragtige en geheimsinnige Swartwoud in Duitsland wat beroemd is vir die
Koekoekklokke wat hulle daar maak. Dit is die tweede grootste rivier in Europa. Kan jy glo dit is amper 3000 km lank, so ver
as van Pretoria na Kaapstad en weer terug! Dit is ‘n baie groot en besige rivier, sal ons nou maar sê in heeltemal
‘n ander klas as ons ou Apiesriviertjie! Groot passasiers- en vragbote vaar heen en weer van Ulm in Duitsland, deur
Oostenryk, en ander lande met vreemde name soos Slovakië, Hongarye, Serwië, Kroasië, Bosnië, Slovenië,
Bulgarye, Romenië en Ukraïne tot in die Swartssee. As ek die vreemde name hoor, word ek so nuuskierig en wonder
hoe lyk al hierdie lande, wat se soort mense woon daar, is daar worshonde? In die outyd het die rivier soos ‘n slang deur Wien gekronkel en gereeld die stad oorstroom, veral as dit ‘n
kwaai winter was en die ys en sneeu begin smelt. Net nadat die mense die Suezkanaal in Egipte baie jare gelede gegrawe het,
het die Wieners die stoomskoppe gehuur om die Donau reguit deur te grawe om die oorstromings te probeer verhoed. Die gevolg
was dat die Oustad toe skielik ver van die rivier was. Daar is vandag nog ‘n kerk met die naam van Maria am Gestade
(Maria op die strand) alhoewel die rivier nou kilometers weg is! Maar dit het nie die oorstromingsprobleem
opgelos nie. Hulle moes toe nog ‘n tweede rivier grawe langs die ander een met ‘n lang dun eiland, die Donauinsel,
van 20 km lank, tussenin. Die nuwe rivier noem hulle die Entlastungsgerinne (snaakse naam!) of sommer die
nuwe Donau en dit is gewoonlik toe met sluise wat net oopgemaak word as daar groot oorstromings is. Die eiland het baie populêr
geword as ‘n ontspanningsplek en vandag sien ‘n mens naweke duisende mense wat met en sonder honde skaats, fietsry,
op skaatsplanke ry, draf of net in die son lê. In die winter ski hulle op die eiland as daar lekker sneeu is.

|
| Die Donau met die Entlastungsgerinne en sy sluise en die begin van die Insel |
‘n Mens kannie glo dat hierdie groot rivier in die winter heeltemal toevries met die ys so dik dat
jy daarop kan loop en met ysskaatse kan ry nie. In die outyd was daar baie arm mense wat ’n bestaan daaruit gemaak het
om in die winter dik ysblokke uit die rivier te saag en dit dan in houthuisies te bêre wat met strooibale
uitgelê was. Hierdie ys het behoue gebly tot aan die begin van die somer en die arm mense het dit verkoop aan restaurante
om hulle kos koud te hou – dit was in die dae voor yskaste! As jy al ooit gewonder het oor die “blou” in “Blou Donau”, die beroemde wals
wat deur Johann Strauss geskryf is, kyk maar net na die foto van die Donau met die Entlastungsgerinne en die begin van die
Donau Insel hieronder!
Die Wienerwald – my Gunsteling Plek
Dan is daar natuurlik die Weense
Woud of Wienerwald soos die mense daar sê. Wat kan ‘n mens sê van so ‘n wonderlike
woud – geen ander stad in die wêreld het so ‘n groot en pragtige woud wat hom omring nie! Verlede jaar het
die mense die Wienerwald se duisendjarige verjaardag gevier – dit is natuurlik ouer maar dit is die
eerste keer so genoem in dokumente wat ‘n duisend jaar gelede opgestel is. Hier kan ‘n mens winter en
somer gaan stap en die natuur geniet. Die Wieners ry sommer met die bus en gaan stap die heeldag daar rond, netjiese ou tannietjies
met hulle hoedjies, handsakkies en kierietjies of ou ooms met leerbroeke en sulke klein hoedjies met vere op of fiks fietsryers
met hulle bergfietse op die fietsrypaadjies wat 800 km deur die bos kronkel.

|
| Toestel wat Marders verdryf |
Maar dit was nie altyd so nie. In die outyd was die mense maar skrikkerig vir die woud en
het dit vermy omdat hulle so bygelowig was – hulle het die bog geglo dat daar allerlei bose geeste in die donker woud
woon. Al wat miskien destyds gevaarlik was, was die bere en wolwe wat daar gewoon het – maar dié is lankal verdryf
of doodgeskiet. Die enigste gevaarlike dier, as ‘n mens dit so kan noem, wat nog daar woon, is die Marder (ek dink ‘n
mens noem dit ‘n marter in Afrikaans), ‘n diertjie omtrent so groot soos ‘n meerkat. Hy is gevaarlik, nie
omdat hy mense of honde aanval nie, nee hy val motors aan! As jy jou motor in die woud parkeer, gaan stap en later wil terugry
huis toe maar jy kan nie die motor aan die gang kry nie, moet jy weet ‘n Marder het hom beet gehad! Hulle klim van onder
in die motor se enjin in en vreet al wat ‘n rubberpyp of vonkpropdraad is, af. ‘n Mens koop ‘n spesiale
toestel wat jy in die kar sit om dit marderproef te maak. Ek het gelukkig
nooit ‘n Marder teëgekom nie maar kan so goed onthou hoe mooi die woud is met die berke- en beukebome en ander
wat ek nie ken nie, die voëltjies wat uit volle bors sing, die Bärlauch onder die bome wat na knoffel
ruik en wat die Wieners in hulle slaaie gebruik en die pragtige blomme en vlinders. Ander plekke is die bos weer stil, geheimsinnig
en donker, so donker ‘n mens moet jou motorligte helderoordag aansit as jy daardeur ry. Ons het dikwels sommer net gery
tot op ‘n plek waar ons die motor kon parkeer en dan gaan stap – dit het partykeer gevoel of ons die enigste lewende
wesens op die aarde was, so stil en sonder mense met net die blare wat onder jou voete kraak! Partykeer het ek my boeglam
geskrik as ‘n vuursalamander skielik onder die blare voor my uitspring.
| Click vir Groot |

|
| Vuursalamander |

Ander kere het ‘n mens geheimsinnige geluide in die eensame bos gehoor wat jou ruggraat
laat kriewel het. Dan het jy gedink aan wolwe en bere en sulke gevaarlike goed, maar gewoonlik was dit
maar net die Wildschweine of bokkies wat daar in groot getalle woon. Of jy loop in die woud en skielik doem
daar ‘n ou romantiese kasteel voor jou op, waarvan party 800 tot 900 jaar oud kan wees. Van die baie
dinge in Wien waarna ek die meeste verlang is die Wienerwald seker die eerste op my lysie.
Maar die wilde diere het nie net in die woud gebly nie! Wildschweine, jakkalse, Dachse (iets amper
soos ons ratels, net kleiner) en ander diere het snags in ons buurt rondgeloop. Ek kan onthou hoe Oupa een oggend geroep het
om te kom kyk na die gat wat onder deur ons heining in harde gruis gegrawe is - net ‘n Dachs met
sy sterk kloue kon dit doen! So vinnig as wat Oupa die gate toegestop het, is dit weer oopgegrawe maar ons kon nooit die skuldige
betrap nie, dit was altyd in die middel van die nag gedoen. Ek moet sê dit het my nogal kriewelrig
laat voel om te weet geheimsinnige en onbekende diere sluip in die nag in ons tuin rond. Sê nou maar die ding raak aan
die slaap onder ‘n bos en ek kom onverwags in die dag op hom af! Ek sou my doodskrik en dit sou gladnie goed wees vir
my hart nie – jy weet mos ek drink hartpille, dan nie? Ek het eers later uitgevind ons Worshonde is spesiaal geteel
om Dachse te vang, dis hoekom ons Dachshunde is! Maar ek is seker dit was vir die outyd bedoel en nie vir nou nie.

|
| Foto van n Dachs wat teen die koue gaan skuil het |
Siektes en Stywe Bene Die
hartpille het die veearts, Dr. Med. Vet. Herbert Krempl van Tierambulanz Heiligenstadt (om nou sy volle titels
te noem, waarop die Wieners baie gesteld is) vir my voorgeskryf. Hy was net om die draai in Probusgasse
en ons het dikwels daarheen gegaan om pille te kry en om my spesiale, duur kos te gaan
haal. Sy praktyk was mooi reggemaak met ‘n indrukwekkende ondersoektafel wat hidroulies op en af kon lig, X-straalapparaat
bokant die tafel en so aan. Sy wagkamertjie was maar klein en het altyd vol mense gesit wat te graag met
almal wou gesels wat daar inkom om te hoor wat verkeerd is met sy troeteldier. Van troeteldiere gepraat, dit was gewoonlik
‘n versameling van hase, altyd skilpaaie, Meerschweinchen (marmotte), katte en honde. Die klein wagkamertjie met sy
versameling van diere was natuurlik te veel vir ou Jakkie as ons hom veearts toe geneem het. Hy het vir alles geblaf en geknor,
dan het die Wieners ons so uit die hoogte gesteurd aangekyk – hulle hou van orde en is nie gewoond aan sulke ongemanierde
Boerehonde nie. Dan moes die Oumense hom maar na buite toe uitneem en deur die venster loer wanneer dit hulle beurt was
om in te gaan.

|
| Universiteitskliniek |
Hierna het ek met my een been begin probleme kry, dit het uit die potjie gespring en was dan baie seer en
ek kon nie loop nie. Dan moes Oupa my maar weer terugneem na dr Krempl toe wat dit moes terugsit in die potjie in –
seer!!! Omdat dit weer en weer gebeur het, het hy naderhand my hele voorpoot in gips gesit en ek moes vir 10 dae met die stywe
been loop. Aan die begin het dit baie gesukkel maar later het ek goed reggekom. Toe die gips verwyder is, het dit beter gegaan
maar die been het tog partykeer weer uitgespring. Gelukkig het Oupa gekyk hoe dr Krempl die been terugsit in die potjie en
kon hy dit naderhand self doen. Ek onthou met Kersfees was Elma en Lilla by ons en hulle het vir my ook toegedraaide
geskenkies onder die kersboom gesit. Ek is mal daaroor om pakkies oop te maak soos jy seker weet. Omdat dit vir Elma so oulik
was as ek die geskenkies so oopmaak, het sy toe elke aand vir my een gemaak. Een aand het dit so
woes gegaan met die oopskeurdery dat my been weer uit die potjie gespring het. Elma het sommer begin huil. Gelukkig kon Oupa
die been inkry maar dit was die einde van my geskenkies!

|
| Wagkamer vir siek honde |
My twee Wit-Wollie- Maatjies
In Wien het ek natuurlik
ook my twee Boerevriendinne Snuffie en Terrie Potgieter ontmoet wat by oom Schalk en tannie
Fransie gewoon het. Hulle is nou wel Maltese Poedels maar ons het baie goeie vriende geword. Wanneer Oupa en Ouma iewers moes
heen, soos Frankryk, Holland of Tsjeggië, dan het ek by hulle gebly en wanneer hulle Oumense van die huis weg was, het
die twee by ons gebly, eenkeer vir ses weke. Snuffie is ‘n bietjie streng en nie lus vir nonsens nie maar Terrie is
‘n malkop en ons het lekker saamgespeel – toe was ek nog baie fikser as nou. In hulle tuin was daar ‘n gat
in die grasperk waarin ‘n onbekende dier gebly het – ons kon nooit uitvind wat nie. Maar dit was groot sports
om daar rond te snuffel en te sit en wag as die ding miskien sou uitkom. Ons het ons dapper gehou maar dis ook miskien maar
goed dat daar nooit iets uitgekom het nie – ek weet nie wat ons sou doen nie! Arme ou Snuffie is baie lief vir oom Schalk
en aan die begin as die twee by ons afgelaai is, het sy ‘n hele week lank op die bank se leuning gesit en aanmekaar
na die voordeur gekyk wanneer oom Schalk dan terugkom. Eers na so ‘n week by ons het sy begin ontspan.

|
| Terrie en Snuffie |
My Groot Hartseer -Jakkie en Ma Katryn gaan na die Hondehemel
Toe
Ma Katryn en ou Jakkie in Wien aangekom het, was hulle altwee al taamlik oud. Ouma en ou Jakkie het baie in die buurt rondgeloop
maar die ou het maar met sy gesondheid gesukkel. Na die petalje met Burg het hy nooit weer heeltemal reggekom nie. ‘n
Mens kon sien as hy maagpyn gehad het, dan het hy met sy voorbene so lank uitgestrek voor hom gestaan met sy agterstewe in
die lug en sommer net lank so bly staan. Dan was dit maar altyd terug na dr Krempl toe. Maar eendag was hy baie siek, dit
het gelyk of hy nie kan sien en sy bene en lyf het so styf geword. Oupa-hulle het hom weer na dr Krempel toe geneem maar hy
het nie weer teruggekom nie. Ouma het baie gehuil en ek het toe maar twee by twee gesit en geweet ons sal hom nooit weer sien
nie.
Ma Katryn het ook met haar hart probleme gehad nes ek en het ook hartpille gedrink. Maar sy was altyd so statig en
waardig ‘n mens kon nooit iets aan haar agterkom nie tot in die baie warm somer van 2002. Sy het partykeer sommer net
skielik omgeval, so ‘n rukkie gelê en dan weer orentgekom. Dan het dit gelyk of sy nie weet waar sy is nie. Die
Oumense was baie bekommerd want hulle sou na Suid-Afrika gaan vir tuisverlof. Hulle het haar omtrent elke dag na dr Krempl
toe geneem maar eendag het hulle sonder haar teruggekom met rooi gehuilde oë en hulle kon nie praat nie. Toe het ek geweet
sy was nou ook by my ou Boetie Plesier, daar waar alle liewe honde heengaan. Dit was vir my vreeslik want ek was baie lief
vir haar. Al wat draaglik was, was dat ek vanaf daardie dag by die Oumense in die bed kon slaap omdat ek vir die eerste keer
in my lewe heeltemal alleen was. Dit was veral lekker in die winter wanneer dit nog koud en donker was om in die bed te bly
lê nadat die Oumense opgestaan het. Dan kon ek lekker warm en rustig na die mooi musiek op Radio Stefansdom luister.
In Wien was die bed lekker groot maar terug in Pretoria op ons bed, ou Baberton, is daar baie minder ruimte en ek kry
dikwels ‘n elmboog op my lyf in die middel van die nag. Dan kla die Oumense ook nog dat ek al die plek opneem.
Enter content here
Enter content here
|